Wanneer Katy Tredoux hoor dat sy niks van haar stiefsuster geërf het nie, is sy diep geskok. Met die hulp van haar drie vriende Greta, Cyril en Dak, word ‘n fyn strategie van stapel gestuur om wel ‘n finansiële slag uit die situasie te slaan. Die plan behels dat die afgestorwe Geraldina se vorige man, ‘n miljoenêr van Stellenbosch, om die bos gelei moet word.
Wanneer daar tot aksie oorgegaan word, kom hulle voor groot probleme te staan. Hulle fyn beplanning ten spyt, het hulle nie rekening gehou met Geraldina se ongure verlede nie. Ook nie met die korrupsie in die Van Straaten Groep nie. Ook nie met Ultra Save, ‘n piramideskema, wat die lewe van baie senior burgers by Huis Stille Waters bedreig nie.
Dis ‘n kwessie van tyd voordat hulle ontmasker sal word. Maar voordat daardie oomblik aanbreek, sal hulle hul lewens in gevaar moet stel sodat die liefde uiteindelik kan seëvier.