Ter herdenking van die ’Sestiger’ Jan Rabie se 80ste verjaarsdag word 21 nou heruitgereik in ’n beperkte oplaag onder die naam 21+. Wat van hierdie publikasie ’n ware versamelaarsitem maak, is die feit dat 14 van die oorspronklike Engelse verhale deur André P Brink opgediep is en vir die eerste keer hier verskyn – saam met die 21 Afrikaanse verhale wat in 1956 gebundel is.
"In 1956 is die loop van die Afrikaanse letterkunde verlê deur ’n smal bundeltjie: Jan Rabie se 21, ’n prosawerk wat vir die taal ’n waterskeiding was en sy rimpelinge dekades lank deur die Afrikaanse kultuur bly stuur het. Dit is gebou op ’n verstommende ironie: dat Rabie se werk oorspronklik in Engels geskryf en eers agterna in Afrikaans vertaal is." – André P Brink.