Short description
Dae uit ons Geskiedenis, saamgestel deur Vriende van Afrikaans, is 'n Afrikaanse Kultuurhistoriese dagboek met 'n magdom vertel-lings van gebeure in die verlede wat 'n invloed op Afrikaanssprekendes gehad het.
Long description
Dae uit ons Geskiedenis, saamgestel deur Vriende van Afrikaans, is 'n Afrikaanse Kultuurhistoriese dagboek met 'n magdom vertel-lings van gebeure in die verlede wat 'n invloed op Afrikaanssprekendes gehad het. Dit dek 366 dae – so skrikkeldag gaan nie verby nie! – van Jan van Riebeeck tot Nelson Mandela, van 'Die Stem' tot 'Nkosi sikelel' iAfrika'. Hoewel die fokus op plaaslike geskiedenis val, vermeld dit ook ander wereldgebeure op dieselfde dag-datum in die geskiedenis. Dit is in 'n handige formaat en sluit 'n volledige onderwerp- en dagindeks in. Hierdie titel het ontstaan uit onderwysers en ouers se behoefte aan materiaal wat handel oor ons geskiedenis en wat as prikkel kan dien vir gesprekke en klaskamer-onderrig. Deur 'n gebeurtenis aan elke dag te koppel, met verwysings daarby, kon ons daarin slaag om 366 onderwerpe in een boek saam te vat. Uiteenlopende terreine word ingesluit, onder andere lewens van belangrike persone, ekonomiese ontwikkeling, skilderkuns, musiek en skrywers. Die inskrywings is beperk tot ongeveer 300 woorde elk en word as sodanig natuurlik geensins 'n volledige studie van die onderwerp aangebied nie. Die doel was deurgaans om die werklik saakmakende feite weer te gee. Die inskrywings dien bloot as 'n inleiding, 'n prikkel tot die onderwerp. Die bronne by elke inskrywing verskaf aanvullende inligting. Onder Ander gebeure het ons gekonsentreer op meer resente Suid-Afrikaanse gebeure, maar soms is ook interessante wereldgebeure ingesluit. Ons vertrou dat hierdie publikasie 'n bydrae sal lewer om die belangstelling in Suid-Afrikaanse geskiedenis lewendig te hou.