Write a review for this product.
Rate this product.

'n Boer in Provence
Reviewed by Alta Pretorius from Kaapstad, Suid-Afrika on 06 September 2004
9320 of 19495 people found the following review helpful:
Met "Die hart van ons huis" betower Marita van der Vyver weereens haar lesers met haar unieke eerlike styl en humorvolle deernis. Die boek is 'n kykie na haar lewe in 'n Middeleeuse dorpie in die suide van Frankryk - in Kerkstraat (à la Rue de l'Eglise) - saam met haar Franse man Alain en vier kinders tussen die ouderdomme van drie en sewentien: hare, syne, hulle s'n. Hul huis staan oop vir almal en wemel gewoonlik van besoekers - gaste uit die vreemde, of die kinders se maats - en almal eet te heerlik saam (al kla Marita oor die skottelgoed wat geen einde ken nie.)
Dié outobiografie is allermins 'n grootpratery oor 'n eksotiese leefstyl in 'n skilderagtige dorpie - dis 'n openhartige tong-in-die-kies openbaring van 'n alledaagse gesin waarmee almal kan identifiseer - met skete en al. Dit is die verhaal van 'n vrou met haar wortels in Afrika en haar "blare en takke" in Frankryk. Sy voel nie verskeur tussen die twee lande nie, maar eerder versprei. Haar skokkende eerlikheid laat die leser soms die hand in eie boesem steek: " Ek is 'n bedorwe wit vrou uit Afrika. Maar presies hoé bederf ek nog altyd was, het eers hier in Europa tot my deurgedring. Soos die meeste wit kinders in my geboorteland, is ek van kleins af omring deur bykans onsigbare swart engele wat dinge vir my gedoen het. Groot was die skok dus toe ek in Frankryk besef dat ek self my kar se petrol moet intap.. en olie toets.. en inkopies eiehandig in te pak... en my eie strykwerk te doen... Vra maar vir enige bedorwe vrou uit Afrika wat sy die meeste in Europa mis. Sy gaan waarskynlik, soos ek, vir jou 'n bogstorie spin oor dierbare vriende en geliefde berge. Maar wat sy die héél meeste mis, glo my, is 'n huishulp. Dis natuurlik nie polities korrek om dit te erken nie."
Marita sê in die laaste hoofstuk van die boek "Die hart van ons huis is ongetwyfeld die kombuis." Maar nadat mens die boek gelees het, besef jy: die hart van daardie huis is beslis Marita - haar deernis teenoor almal wat haar pad kruis, haar gasvryheid en kwesbare empatie. Sy sê dit grens aan waansin om 'n lewe te maak oorsee deur in Afrikaans te skryf, maar sy het nie 'n keuse nie. Ons lesers is dankbaar daaroor.
Was this review helpful?

Koop jou eie
Reviewed by Isolet Jansen from Kaapstad, Suid Afrika on 29 September 2004
8962 of 19026 people found the following review helpful:
Self met 'n familie wat in die vreemde sit, het my hart erg 'n punt getrek na hulle. Ek kon die boek nie neer sit nie.
Marita is een van my gunsteling skrywers in Afrikaans, en hierdie boek het dit net weereens beaam. Haar skryfstyl is gemaklik, en leesbaar - en wil jy nie lees van hoe sy beskryf en verduidelik nie. Van haar ervarings en struwelinge met dit Franse en hul taal tot hul liefde vir kos en administrasie papierwerk! Jy word as te ware deel van hul alledaagse lewe in Frankryk.
Veel van my vriende het die boek op my koffietafel gesien en die eerste hoofstuk begin lees: "Ek wil dit leen as jy klaar is"
"Aikona", sê ek "Koop jou eie - jy help vir Marieta om haar vensters se hortjies te vervang!"
Was this review helpful?