Beleef ’n jagtog saam met diamantsmokkelaars op ’n hotel se werf, kom hardloop kaalvoet saam met die polisie aflos op Lüderitz se soutpan, ry saam met die Bont Louws ’n driedem in Namakwaland en vind meer uit oor die genadedood binne huweliksverband. Stel vas wat gebeur met ’n argitek se ponytail by ’n skaapbraai, ontmoet die vark Samuel Swart en ontdek watter skokkende goed gesê word op die sterfbed in die aangesig van die dood. Woon saam met ses mense ’n begrafnis in die Karoo by en leer hoe vang stadsjapies snoek.
Hierdie stories en nog meer word meesterlik deur Nico Nel van Maak ’n Las-faam en Uys van der Hoven as vrugte van hulle fotostatiese breine aan die leser vertel. Hulle het mekaar in 1976 onderstebo ontmoet, toe beide in die regte studeer en daarna in die verkeerde gedwaal het. Hierdie boek, wat geskik is vir die hele gesin, is gelukkig in Afrikaans en nie in Latyn Spes, soos aanvanklik beplan was nie.