Short description
George Louw se vierde digbundel bekoor, vermaak en ontroer.
Long description
Die satirikus is hier aan die woord, sinies, soms verrassend speels, maar intens bewus van die mens se ydelheid en droefheid. Dit bied ’n blik op wat die mens van God en sy skepping maak en dit satiriseer tegelykertyd die mens wat sy eie reëls maak, die mens wat wil koning kraai. Die kraai, onheilsboodskapper, doodsvoël, ongeluksvoël, maak vroeg in die bundel reeds sy verskyning.
Uiteindelik ontmoet ons die kraai in sy menslike gedaante as Girolamo Savonarola, die Dominikaanse boeteprediker wat in Florence die gemoedere gaande gemaak het met sy apokaliptiese profesieë en simbool van die martelaar-profeet-skrywer word. “En in sy swart py het die tingerige klein priester met die prominente krom neus byna die voorkoms van ’n kraai gehad.” Oor Savonarola se brandstapeldood lees ons: “Toe hy dié dag opvlam / in rooi geweld was dit nie hy / maar God wat déúr hom brand // en teen die walle van die Arno, / naamloos tussen mos en varings, / het die laaste lenteblom behoedsaam / oopgegaan.”