Die e-pos wat in hierdie boek gepubliseer word, is ’n gesprek so openhartig dat dit grense afbreek en die pad oopmaak vir begrip en aanvaarding. Só ’n gesprek – bedaard, diepgaande, vol respek, en hoogs ingelig – is die teenoorgestelde van die omstandighede wat daartoe gelei het.
Toe twee Afrikaanse koerante in 2005 private foto’s van Gaum jr. publiseer saam met bewerings oor hom deur ’n ander jong man, is ’n uitkringende reeks gebeure gesneller wat spoedig sou lei tot die selfmoord van die jong man en ’n verslingering van die kerkloopbaan van Laurie Gaum, ’n NG-predikant net soos sy pa, Frits.
Te midde van die sensasie is vraagstukke oor homoseksualiteit, die Bybel en die kerk, oor verdraagsaamheid en maatskaplike geregtigheid op die voorgrond gedwing. En veral het dit ’n pa,’n leidende figuur in die kerk, gekonfronteer met vrae wat skielik nie meer bloot teoreties was nie, maar lewenskwessies, in sy eie gesin.
Ná die verloop van baie tyd en besinning skryf pa en seun nou openhartig aan mekaar oor die dood, ons land, oor liefde en hoe die Bybel verstaan moet word, oor geregtigheid en vergiffenis, en waar die kerk daarin gefaal en waar getriomfeer het.
’n Ontroerende boek wat geen leser sonder begrip sal agterlaat nie.