"Ek het al baie dagboeke gesien en van gehoor, maar self nog nooit een geskryf nie."
Só begin Tant Miem Fischer se dagboek op 29 Mei 1901, die dag toe kolonel Bullock hulle huis vir die derde maal kom plunder. In die middel van die winter in die onherbergsame Hoëveld word sy saam met haar enigste seun en ander familielede weggevoer van hulle plaas naby Ermelo. Eers na die konsentrasiekamp by Standerton en daarna na die Merebankkamp naby Durban. Intussen bring haar tagtigjarige vader die hele oorlog saam met die burgers in die veld deur. Haar man, Willem, sien sy eers weer toe sy na meer as ’n jaar vrygelaat word.
Haar ingehoue, sober styl beklemtoon die intense vernedering en ontbering waaraan die bejaardes, vroue en kinders in die haglikheid van die konsentrasiekampe uitgelewer was: "In die namiddag is hier weer drie trokke vroue verby. Die vroue sit in oop trokke en die beeste wat op dieselfde trein is, in trokke met dakke."
"Verlede nag is daar binne sewe uur drie kinders van mev. Gouws dood. Die vierde is buite hoop siek, en die vyfde het vanoggend siek geword. Sy het sewe kinders gehad."
"’n Paar van ons liewe hensoppers het al soveel vet van ons vleis gesteel dat hul vroue seep kook."
"As straf kry hy vyftien houe met ‘n rottang en veertien dae harde arbeid … Die seun is Stoffel van der Merwe, tien jaar oud en uit die Carolina-distrik."