In Eugène Terre’Blanche, my storie vertel Terre’Blanche vir die eerste keer self sy verhaal. Hy praat oor sy grootwordjare, diens in die Polisie, sy huwelik en sy versterkte Christelike oortuigings. Hy vertel ook vir die eerste keer heelwat van sy lewe in die tronk – van die benoudheid, maar ook van die goeie verhoudings met van sy medegevangenes – almal swart. Hy gee sy eie weergawe van onder meer die stormagtige politiek voor 1994 waarby hy as hoofleier van die AWB betrokke was, soos die Slag van Ventersdorp, die inval in Mmabatho en die bestorming van die Wêreldhandelsentrum. Die leser sal self kan oordeel waarvoor Terre’Blanche hom beywer het. Het sy lewe en dood ’n boodskap vir Suid-Afrika? Was hy deur sy gewelddadige dood die slagoffer van dít waarteen hy gewaarsku het in sy soeke na die pad oor die “hoë blou berge van Nimmer”? In sy eie woorde: “Het ék dan ’n kans om ’n weg te baan waar die ander gefaal het?” Hierdie boek is ’n aangrypende blik op een van Suid-Afrika se mees omstrede figure. Amos van der Merwe het die boek met Eugène Terre’Blanche se volle medewerking geskryf, sodat dit soos ’n outobiografie lees. Dis dan ook Terre’Blanche wat deurgaans in die eerste persoon praat. Om die lewe van Terre’Blanche van nader te ondersoek, was deel van die skrywer se soeke na sy eie identiteit. Alhoewel hy Terre’Blanche se loopbaan gevolg het, was hy nooit by die regse vleuel van die politiek betrokke nie. Eugène Terre’Blanche, my storie was persklaar ten tye van Terre’Blanche se dood. About the author: Dr. Amos van der Merwe het sy nagraadse studie in 1983 voltooi en daarna in Pretoria gepraktiseer. Hy woon tans naby Mosselbaai en doen opheffingswerk in die gemeenskap. Alhoewel hy betrokke is by ’n uro-ginekologiese praktyk in George, is sy droom om voltyds te skryf. Hy is ook die skrywer van Facing Surgery with Christ, wat deur Tate Publishing, Oklahoma VSA, uitgegee is.