Een aand, terwyl Neelsie Vroutjie se hand vashou en hulle die sonsondergang bewonder, wonder hy hardop of daar mense op Venus woon. Skaars is hierdie woorde koud of ’n langwerpige, ronde, geelblink tuig wat soos ’n reusagtige eier lyk, daal reg voor hulle neer. In die tuig is Loeloeraai, ’n bewoner van Venus. In ’n japtrap leer hy Afrikaans praat en begin ’n wonderlike aarde-en-ruimte-ervaring vir Neelsie en sy gesin. Maar nie almal is ewe bly oor Loeloeraai se koms nie … hy het die land immers onwettig binnegekom. Buiten Loeloeraai, Neelsie en Vroutjie ontmoet die leser ook ander kleurvolle karakters: modebewuste Engela, Neelsie se skuldeiser, oom Stoffel, Herrie die olifant en die ewig pessimistiese Watwo. In die gees van Jules Verne se Reis na die maan (1870) en H.G. Wells se The First Man in the Moon (1901) speel die storie van Loeloeraai en ’n handjie vol aardbewoners af.