In die Voetspore van die Grotes: Episode opsommings
1 Kaokoland
Die begin van ʼn lang reis waartydens ons ʼn roete sou volg op die tradisionele migrasieroetes van olifante. Vir eers moes ons gaan soek na die mees ontwykende van hulle almal – die woestyn olifante van Damaraland en die Kaokoveld. Van daar neem die reis ons deur die Namib om die mense van Kaokoland, die Himba, te ontmoet.
2 Etosha
Die Etosha was eens die grootste wildtuin in die wêreld. Vandag nog is dit een van die mooiste, met ʼn oorvloed van wild. Mens sien die gemsbok en springbok, en natuurlik roofdiere soos leeus, luiperds en jagluiperds. Die ou grotes is natuurlik ook daar..
3 Khaudum
Weggesteek in die noordoostelike hoek van Namibië is ʼn plek wat een van die laaste wildernis gebiede in Afrika is. Snags loop leeus en hiënas nog deur mens se kamp, en in die winter maak die olifante ʼn oorlas van hulleself. Die week is afgesluit met ʼn besoek aan die Boesmans van die Kalahari.
4 Okavango pypsteel
Wes van die Okavango Delta is die Kalahari. Hier vind mens die Drotsky Grotte en Tsodilo Hills, beide plekke omvou in misterie. Ten spyte daarvan dat heelwat mense reeds die plekke besoek het, voel ʼn besoek aan Tsodilo en Drotsky vir mens of jy dit opnuut ontdek.
5 Moremi en Chobe
Dis die wildtuine van die Delta, en ons betree die gebied nadat hulle heelwat hoër as gewoonlik reënval gehad het. Dit sorg vir ʼn interessante 4x4 ondervinding, maar die oorvloed van wild, vernaamlik van olifante, maak die besoek een om te onthou.
6 Victoria Falls en Hwange
Die reis begin met ʼn bungi sprong by een van die natuurlike wonders van die wêreld, gaan verder deur ʼn wildtuin met die grootste konsentrasie olifante in Suidelike Afrika, en eindig met die geleentheid om op die rug van die ou grotes te ry.
7 Tuli
Terug in Botswana is ons eers na die Tuli-blok, ‘n strook langs die Limpoporivier waar daar geboer word, maar die wêreld verander vinnig omdat meer en meer mense agterkom dis makliker om saam met die olifante te leef, as om te probeer boer en hulle kom vreet jou aartappels op. Die program het geëindig in Mashatu, een van die privaat wildtuine van die Tuli.
8 Limpopo-vallei
Die reis het begin by Mapungubwe, oudste stad in Suid-Afrika. Van daar volg die span die Ivoor Roete, al langs die Limpopo af tot by Makuja, en deur tot in die Kruger by Crooks Corner. Dis waar Bvekenya Barnard en ander ivoorjagters berugtheid verwerf het aan die begin van die vorige eeu.
9 Venda en Gazankulu
Thohoyandou, kop van die olifant, is die hoofstad van die Vha-Venda. In hierdie land van misterie en legende het ons gaan soek na die luislang in die Fundudzimeer, en toe verder gereis, al langs die Kruger se heining tot by Letaba Ranch. Ook hier was die skade van die vloede van 2000 nog duidelik te sien.
10 Die Kruger
Letaba is die spogkamp van die Kruger. Dis ook hier waar mens die Olifantkamer kry met die ivoor van die reuse wat die Kruger beroemd gemaak het. Verder suid het ons gery met die Lebombo 4x4 roete. Ja, mens kan wel in die Kruger in die veld gaan kamp, en dan kry mens dalk nog die kans om Duke, een van die laaste oorlewendes van die Magnificent Seven te sien.
11 Swaziland
Juweel van Suidelike Afrika! Op die voorstoep van die Gautengers is daar wonderlike parke soos Mlilwane, Mkaya en Hlane. En hier kom mens te voet tot binne tien tree van ‘n wit renoster, of jy kan jou moed beproef as ‘n olifant jou storm, en jy het ‘n drie duim dik boompie om agter te skuil. Die koning van Swaziland is Mswati III, en die koning van bewaring is Ted Reily.
12 Mosambiek
LM-prawns in Maputu, ‘n ferrie-vaart oor die baai, op soek na enkellopende, skugter olifante in die Maputu Elephant Reserve, tot swem saam met die dolfyne by Ponta do Ouro, die Punt van Goud. Suid-Mosambiek is ‘n 4x4 vakansiegangers paradys, en dis net om die draai.
13 Maputuland
In Noord Kwa Zulu Natal is daar Kosibaai met sy viskrale, Tembe Olifantpark waar ons ons laaste olifant sou sien, Ndumu met sy oorvloed voëls, en die kuswoud langs die Sibiyameer. By Mabibi kan mens snorkel en vlieghengel, of vir ‘n entjie met die strand afry tot by die paar honderd ander 4x4 manne en meisies. Hier kom die tog op ‘n einde. Dit het 91 dae geduur, en 21 000 km.