Carike vier volgende jaar 40 jaar in die musiekbedryf. Haar KINDERLAND albums en DVD's is ongelooflik gewild en word deur jonk en oud geniet. Al haar Kinderland uitreikings het tot op datum òf goue òf platinum status bereik.
Die nuwe kinderkarakter wat onlangs in die Carike en Ghoempie DVD bekendgestel is, se temaliedjie is een van 24 opwindende snitte, wat opgeneem is vir VAT 5 Musiek/Sony BMG deur die meester Boet Pretorius.
En wie van ons ouer garde sal nou nie vir "Bennie Boekwurm" van Wielie Walie onthou nie. Ja-nee, Bennie is terug om homself binne-in die hartjies van die kleinspan te sing.
Ander Afrikaanse gunstelinge sluit in "Die kat kom weer", "Bliksoldaatjie" en natuurlik "Vat jou goed en trek Ferreira" wat beslis nie net deur kleinboet en -sus geniet sal word nie.
Die albumomslag sluit die lirieke in (vir lekker saamsing), sowel as 'n Ghoempie boekmerk wat uitgeknip en ingekleur kan word.
Carike Keuzenkamp het haarself weer oortref met die opname van Carike in Kinderland 4.