Sarah het saam met haar skeefgetrapte pantoffels in die vullisdrom beland. Sy is vreeslik voorstedelik. Sy het nie werklik iets om oor te kla nie. Behalwe dat haar man sy middeljaarkrisis beleef, hulle sekslewe beperk is tot high days en holidays, haar seun se tweede naam Moeilikheid is en dat dit soms vir haar voel asof net Hond haar verstaan.
Maar daar wás ’n tyd toe sy op hoëhakskoene tussen die slaggate op haar lewenspad rondgetrippel het. En almal haar mooi bene bewonder het. Toe kom die uitnodiging na die reünie op Doringbaai en haar lewe neem ’n wending wat sy nie in haar wildste drome verwag het nie...